Wednesday 27 March 2019

Ons is terug in Italie, maar hierdie keer in Carru'  in Piemonte.  Ons is met vakansie saam met ons vrie nde van Stilbaai en Cloudcroft in New Mexico in die VSA.

Elke keer as ek terug is in Italie, weet ek weereens hoe dankbaar ek is dat ek hier gebly het vir vyf jaar.  Daar is geen land in die hele wêreld waar mens so lekker kan eet nie, waar selfs die kleinste dorpie talle winkels het waar mens spesiale kos kan koop nie, en waar elke streek sy eie spesiale kosse en wyne het nie.

Vandag het ons vir middagete vier verskillende soorte focacia gehad:  een met ham en kaas in die middel, een met uie op, een met 'n sagte kaas in die deeg een een net gewoon.  Daarmee saam het ons proscuito ge-eet, wat ook in elke streek anders smaak, veral as jy die rustico oftewel plaaslike soort koop.  Proscuito is spesiaal behandelde varkboud wat oor 'n tydperk gehang word, (amper soos biltong) en dan in papierdun snytjies gesny word. Ons het dit vandag saam met die focacia ge-eet.
Daarmee saam met ons 'n baie spesiale affetate gehad: lardo con rosmarino.  Lardo is letterlike vet, maar soos altyd het die Italianers dit reggekry om iets spesiaal van vet te maak.  Die spierwit vet word in stukke gesny, gehang en gedroog en meet roosmaryn gegeur.  Weer word dit lardo in papierdun snytjies gesny en saam met brood ge-eet.  Dit smelt in jou mond!

Vir aandete wag daar nog 'n spesiale gereg of twee.  Eers pasta met tuis gemaakte pesto.  Nie net pas die spiraal pasta wat ek so 'n paar dae gelede in 'n supermark raak geloop het perfek by die pesto nie, maar die pesto wat Menno vir ons gemaak het is so vol geur dat dit voel asof dit amper jou hele liggaam vul.
Met al die ou brood in die huis maak ek toe vir ons 'n panzanella.  Dit laat my altyd dink aan somer; geurige dieprooi tamaties, fyngekapte rooi uie, basiliekruid, olie en rooiwyn asyn.  Lekker baie swart peper en sout, en vanaand het ek sommer vir 'n toegif vir ons ook 'n bol vars mozarella kaas in geskeur.

Baie rooiwyn wat ons by die naaste cantina koop gekoop het en muntstuk groot profiterol sluit die ete op 'n hoe noot af.

Dit was vandag se baie gewone kos.  Môre oggend gaan ons mark toe in Mondovi, 'n dorpie so 20 km van hier af waar ons met 'n funicular van die laag liggende deel na die hoe deel van die dorpie beweeg.

Tuesday 23 April 2013

Die Romeinse Kombuis


Die Romeinse kombuis
   “Kom ons gaan eet vanaand in Trastevere “abbacchio” gaar gemaak op die Romeinse manier” sê Roberto een oggend vroeg kort nadat ons vir die eerste keer saam in Rome gaan kuier het.  En daarmee begin my liefdes verhouding met Rome en die Romeinse manier van eet.
   Trastevere is die oudste deel van Rome met nou kobbelsteen  vicoli (straatjies)  wat selde son sien en waar slegs die kleinste motors in kan beweeg.  Geboue staan styf teen mekaar in geryg, en tien talle eetplekkies bederf plaaslike inwoners sowel as toeriste met heerlike tradisionele Romeinse kos.
   Vandag is meeste van die winkeltjies in Trastevere restorasie- of antieke meubelwinkels vol gepak met snuisterye wat dit maklik maak om jouself te verloor in die atmosfeer van vergange se dae. Potplante beur moedig boontoe om bietjie son te kry, en die bougainvillias blom ten spyte van min son veral in die vele  piazze  wat oral weggesteek is.
   Trastevere is ook een van die min ou dele van Rome waar daar nog baie mense permanent woon.  Hulle noem hulle self dan ook  veri Romani oftewel regte Romeine. ‘n Mens mag jouself sleg ‘n vero Romano noem as jou familie al 7 generasies daar woon.  Min van hulle oor vandag want alhoewel Roberto al drie geslagte lank ‘n Romein is, is hy dus nie ‘n vero Romano nie
   Abbacchio wat ons daardie aand gaan eet, is baba lam, en as ek so sê, bedoel ek ‘n lammetjie wat minder as twee maande oud is, en wat nog nooit gras ge-eet het nie maar wat nog aan sy mamma drink.  Ek en Roberto het ‘n hele agter kwart ge-eet tussen die twee van ons en dit was gladnie te veel nie.  Die lam word mildelik gegeur met roosmaryn en knoffel en dan in die oond gebak en smelt in die mond.  Dit word bedien met gebakte aartappeltjies wat saam met die lam in die oond gebak word, en ook deurdrenk is met die geur van roosmaryn en knoffel.  Vingerlek lekker sê ek vir julle.
   Ek kan nie oor Rome en sy kos praat sonder om julle te vertel van die invloed van die Joodse gemeenskap wat tradisioneel in die ghetto gebly het nie.  Ek het nooit besef dat ‘n “ghetto” in Europa meen dis ‘n deel van ‘n stad waar Jode gedwing is om te woon en sodoende fisies en kultureel afgeskei is van die res van die samelewing.
   Die Jode van Rome het baie geregte bygedra tot die kook kuns van die Romeine, waarvan die mees bekende is carciofi alla guidia; diep gebraaide artisjokke wat bekoor in hulle eenvoud. 
   Nog ‘n Joodse gunsteling is coda alla vaccinara wat herinner aan ons eie beesstert.  ‘n Heerlike bredie wat gestowe word in tamaties en wit wyn en net die regte gereg is om te eet as die wind koud loei in die nou stegies en wat aanvanklik slegs ge-eet is deur die slagters wat hierdie lekkerny vir hulle self toe ge-ein het.
   Een van my geliefkoosde vleis geregte in Rome is Saltimbocca alla Romana wat letterlik meen “spring in die mond”.  Die naam kom waarskynlik van die feit dat dit so lekker is dat dit sommer in die mond in spring, maar dit kan ook wees as gevolg van die hemelse vermenging van geure; ‘n dun sny kalfsvleis, salie, proscuito (gedroogde ham), en wit wyn.  As dit reg gaargemaak word smelt dit in die mond en word gewoonlik bedien met vars lente ertjies of kapok aartappels.
   Varkvleis is nog ‘n gunsteling van die Romeine met die baie bekende porchetta bo aan die lys.  Porchetta is ‘n speenvarkie wat ontbeen is en dan gestop word met roosmaryn en wilde vinkel sade, gegeur met knoffel en sout en peper en stadig in ‘n oond wat met hout brand gebak word.  Gewoonlik oornag.  Môre eet ons dit op ‘n broodjie en dit kan gekoop word by talle stalletjies as panini con porchetta.  As jy nog nie so ‘n broodjie in Rome ge-eet het nie het jy nog nie Rome se straat kos ge-eet nie. 
  Maar kom ons stap verder vir die volgende gereg op die spyskaart en gaan maak ‘n draai by een van die vele vars vrugte en groente markte van Rome.  My gunsteling is ‘n relatief klein mark in Campo di Fiori in een van die pragtigste ou dele van Rome, digby die bekende Piazza Navona.
   By Campo di Fiori raak jy sommer baie gou ‘n bekende by die verskillende stalletjies as jy vir ‘n week lank elke dag daar gaan rondstap en jou daaglikse groentes daar koop. Onthou die Italianers koop dag vir dag die kos wat hulle nodig het en leef dus wat hulle eetgewoontes betref absoluut seisoenaal.  Om elke dag te gaan kyk wat is vandag vars en daarvolgens jou spyskaart te beplan is ‘n voorreg wat jou lewe verryk en boonop gesond is vir jou.
   Vandag is daar dalk ‘n bossie grasgroen aspersies met stywe pers punte wat lekker sal smaak vinnig gestoom en net bedien word met sout en peper en ‘n straaltjie lekker vars olyfolie, en môre lê daar dalk kraakvars jong groen boontjies wat lyk asof die dou druppels nog daarop lê en vir jou wink om hulle te koop.
   O ek hou van die verskeidenheid groen blaar groente soorte van Rome wat my altyd in vervoering het.   Daar is puntarelle, ‘n dikkerige grasagtige bossie wat gekook word en dan bedien word met ‘n ansjovis sousie, die bitter cicoria, ‘n plat bossie met gepunte blare wat ons as vuilgoed uittrek maar wat die Italianers met smaak eet, agretti wat lyk soos gras wat ‘n vetplant is en wat gekook word en dan met suurlemoen sap, sout, peper en olyfolie bedien word, en dan natuurlik die Italiaanse spinasie wat gladnie lyk soos ons spinasie nie maar ‘n klein bossie is met ovaal blaartjies en ‘n rooierige stam.  Dis heerlik vinnig gekook en dan  gebraai  met knoffel en rissie vlokkies in ‘n pan.
   Bloedrooi tamaties in verskillende vorms en groottes ding mee om jou aandag, en die vars kruie om daarmee saam te eet is legio.  Basieliekruid, oregano, salie, marjolein en tiemie kikker enige gereg op, en maak dit eg Romeins.  Wie van ons ken nie die heerlike Caprese slaai wat bestaan uit alternatiewe skywe bloedrooi tamatie en vars spierwit mozzarella kaas bestrooi met groen basielie blaartjies?  Die Romeine glo die gereg het in Rome begin en gladnie in Capri soos almal beweer nie.
   As mens ‘n hele klompie groente by een van jou geliefkoosde stalletjies koop kry jy ‘n geskenk van gli odori wat gewoonlik ‘n bossie is wat bestaan uit ‘n wortel, ‘n stingel seldery, ‘n paar takkies pietersielie en as jy gelukkig is en dis in seisoen, ‘n takkie basieliekruid.  Odori  meen letterlik “lekker ruik” wat enige gereg waarin jy dit gaan gebruik lekker gaan laat ruik maar ook lekker gaan laat smaak.
   Paste, hartskos van Italie!  Hoe kan ons van Italiaanse kos praat en nie pasta noem nie?
  Die Romeine eet pasta hoofsaaklik met ‘n tamatie sous.  Van die heuwels buite Rome kom Pasta all’Amatriciana, ‘n tamatie sous met ‘n byt, ryklik gegeur met rissie en pancetta die ongerookte Italiaanse spek.
In ons land ken ons natuurlik ook Spaghetti alla Carbonara wat vir die Romeine una cosa seria (oftewel ‘n ernstige saak) is.  Dit word met erns gemaak van plaasvars eiers, pancetta en sout en peper, en mildelik bestrooi met pecorino, die eeue ou tradisionele skaapmelk kaas wat van die vroegste tye af in Rome en omgewing gemaak en ge-eet is.
   Natuurlik kry ons ook pasta geregte voor berei met van die verskillende groentes wat volop is in Rome.  Broccoli, zucchini (murgpampoentjies)en bieta (‘n blaar groente wat amper soos ons spinasie lyk) is van die gewildste groentes om ‘n pasta sous mee te maak.
      Nagereg in Rome is by uitstek vrugte.  Pienk wang perskes word in ‘n bak met yswater op die tafel gesit en elkeen help homself.  Pas ryp pere word bedien met gorgonzola kaas en verras elke keer as die twee smake in jou mond ontplof.  In die winter herinner die lemoene vanaf Sicilie mens (blood oranges) aan sonskyn en hitte, en in die lente eet mens bakke vol bloedrooi kersies om die nuwe seisoen in te lei.  Sodra spanspekke ryp is soek ons die soetste kleintjies uit en sny dit net in die helfte, vul dit met bietjie port en verlustig ons in die lekkerte daarvan.
   Al woon ek nie meer in Rome nie, en al het ek slegs ‘n kort rukkie regtig daar gewoon sal dit altyd die plek wees waar ek die heel meeste van kos geleer het in my hele lewe.  Die Romeine weet dat goeie produkte die basis is van goeie eet, en ook dat die eenvoudigste kos gewoonlik die beste kos is.
A magna’ e a gratta’, tutto sta a incomincia’. Om te eet is soos om te steel, dis alles in hoe jy begin.
‘n Ou Romeinse spreekwoord.
 
   Pasta all’Amatriciana

Jy het nodig:
Omtrent 2 eetlepels olyfolie
150 g pancetta, in repies gesny
1 gekapte ui
1 gedroogde rissie of warm rissie vlokkies na smaak
7 Italiaanse pruim tamaties of 1 blikkie 400g gekapte tamaties
sout en peper
500g pasta (penne of rigatoni of selfs spaghetti)
‘n Kwart koppie vars gerasperde pecorino kaas.
Verwarm die olie in ‘n lekker groot pan. Voeg die pancetta by en braai oor ‘n redelike warm hitte terwyl jy heeltyd roer tot lig bruin.
Verwyder met ‘n gaatjies lepel en hou warm.
Sit die gekapte ui en rissie in die vet in die pan en braai tot net begin verkleur, stadige hitte.  Dit neem omtrent 5 minute.
Voeg tamaties by, geur met sout en swart peper, en prut vir omtrent 8 minute.  Haal nou die rissie uit en gooi weg.
Voeg nou die pancetta weer by in die pan, proe vir geur en as jou sous nie sterk genoeg is na jou smaak nie, voeg nog bietjie fyn gemaalde rissie by.
Kook die paste in baie vinnig kokende water tot el dente.  Dreineer en meng met die sous in die pan.  Roer ‘n bietjie van die kaas deur die gereg voordat jy dit tafel toe dra.
Bedien dadelik met die res van die gerasperde kaas aan tafel sodat elkeen vir hulle kan oorstrooi na smaak.

(1711)


  
 
  
  
  

  

Friday 12 April 2013

My twee Dogters

Karlien kuier by my!  Ai, dis altyd vir my so lekker as een van my kinders by my kuier!  Ek het waarskynlik geleer om hulle opreg te waardeer toe ek so die wêreld vol geflenter het.
My twee dogters het altwee 'n baie spesiale plekkie in my hart en in my lewe.  Dit is soms asof ons telepaties met mekaar verbind is, en mekaar se gemoeds toestand vêr oor die waters kan aanvoel. Ek het al menigmaal 'n sms van Elsabet af gekry waarin sy my vra wat is fout Ma?  Ek dink konstant aan jou!

Karlien gaan terug Australie toe, vir goed.  Dit maak my hartseer.  Dit maak my weemoedig, want ek weet sommer daar gaan dae kom wat ek vreeslik na haar gaan verlang.  Hier in Suid Afrika kon ek darem gou bel as ek so voel, en al het ek net vir haar gesê ek is lief vir haar, het ek sommer beter gevoel.

Elsabet bly doer vêr in Noord Ierland, in Belfast.  Ek het haar verlede jaar met my verjaarsdag laas gesien, maar ons "sien" mekaar elke week minstens een keer 'n week op skype.  Ai, hoe het ons klaar gekom voordat ons die heerlike vinnige internet kommunikasie gehad?

Altwee my dogters is vir my net soos ek hulle wil hê!  Hulle is volwasse, verantwoordelik, vriendelik en vol lewe.  Hulle weet wat hulle wil hê en skroom nie om dit na te volg nie.  Kortom, hulle koppe is uitgesorteer.

Ek sê sommer net vandag DANKIE vir my twee dogters!

Friday 30 March 2012

Terug in Italie.

Ons is terug in Italie.  Let daarop dat ek nie se ons is terug by die huis nie!  Dit is die vreemdste ding, want vir die eerste keer voel nie ek of Roberto asof ons terug is by die huis nie.  Ons het mos nou besluit dat Stilbaai ons nuwe huis is, en dit is waarheen ons wil terug gaan, of eintlik, dit is waar ons wil wees.

Maar!, en dit is 'n baie belangrike maar, gister toe ek vir Roberto dorp toe stuur om vir ons bietjie kos te gaan koop, kom hy met entoesiasme terug!  "Dit is eenvoudig wonderlik! Ek het nie geweet wàt om te koop nie!  Ek kan myself verdrink daarin!  Die keuses is legio!"

Hy het by die huis gekom met drie soorte groen groente - iets wat ons konstant gemis het in Suid Afrika waar daar as groen blaargroente net "swiss chard" te koop is, nie eers regte spinasie nie.  Hy het "brocoletti" gekoop, en 'n bitter blaar "cicoria" en "fagioli a corallo"  wat groen boontjies is, maar plat met die heerlikste geur!
Ek moet bieg, ons het darem soms lekker groen boontjies gehad, en daar was altyd murg pampoentjies, en altyd koop en brocolli.  Maar mens word moeg om altyd net te kan kies tussen hierdie paar groente, en om iets daarvan te probeer maak.

Dit was natuurlik een van my en Roberto se gevegte daar in Suid Afrika; hy was op 'n kol so gatvol vir die kos wat ek gemaak het dat hy net mooi niks meer wou eet nie.  Hy het sy Italiaanse kos gesoek!  En ek kon dit nie vir hom gee nie!!  Fiasko, se ek vir julle!  Absolute fiasko!  Ons het vir seker twee weke lank geveg oor kos!

Nou is ons terug hier, en minstens is die kos kwessie uitgesorteer want benewens die lekker groen groentes, het Roberto ook proscuito gebring, en drie soorte kaas, en mozzarella wat ons gisteraand met bloedrooi tamaties ge-eet het, en heerlike olywe wat in die oond gedroog is, en plat pizza brood.

Nou weet ek dat ek terug is in Italie!  Ek drink weer my capucino in die oggend, gemaak van amper pik swart koffie, ek eet weer al die heerlike groen groentes, en verlustig my weer in die verskillende kase en brode van Italie!

O wel, "you win some, you lose some"!!

Saturday 15 October 2011

Stilbaai


Ons is in Stilbaai, ‘n dorpie wat vir my van kleintyd af al spesiaal is.  Ek het die eerste keer die see gesien in Stilbaai toe ek 10 jaar oud was.  Ons het destyds in Pietersburg gebly, en die reis Stilbaai toe was alreeds ‘n spesiale reis. 
Ek onthou ons het die eerste dag tot in Germiston gery waar my Ouma aan my Ma se kant gebly het.  Sy het daar skool gehou, in Wychwood.  Dit was alreeds ‘n dag reis met ons 1953 groen Ford. 
Die tweede dag was ons reis tot in Bloemfontein waar ons ook vir die eerste keer in ‘n regte hotel geslaap het.  ‘n Vreemde en opwindende ondervinding vir ons kinders.
Maar toe kom die swaar, want toe kom die hitte!  Dit was Desember, en die derde dag het ons tot in Beaufort Wes gery.  Sonder lugverkoeling, met wyd oop vensters wat geen verligting bring nie, en ons drie kinders agter in die kar het Ma en Pa enige iets probeer om ons te vermaak.  Ons moes die nommer plate van die karre wat van voor af kom raai, ons het al die liedjies wat ons ken gesing, en ons het “comics” gelees.  Tussen-in het ons natuurlik ook baklei, want as een aan die ander raak was daar moeilikheid!  Op ‘n stadium het dit so erg geraak dat Pa gedreig het om te stop en ons af te laai.  Glo my, hy het dit een keer met my gedoen en dit was genoeg om my te kalmeer ………. Vir ‘n wyle.
Op ‘n stadium het ons by ‘n kafee winkel langs die pad gestop en Carina, my sus wou met alle geweld daar bly toe die tannie aanbied om haar daar te hou!  Sy was die mooiste ou klein dogtertjie.
Die vierde dag het ons darem in Stilbaai aangekom, laat middag en by die Harmonie losieshuis ingeboek.  Dit was die mees wonderlike vakansie vir ons kinders.  Harmonie losieshuis was op die strand, net oor die straat, geen badkamers nie, net buite storte, alle etes ingesluit, ‘n kinder paradys!  Vroeg oggend was ons reeds op die strand om skulpies, klippies en wat nog op te tel.  Swem tot ons velle soos ou frummels gelyk het, bloed rooi gebrand want dit was voor sonskerm middels, tot ons gladnie sonder ons hoede buite toe mag gegaan het nie.  O die lekker ou dae!
En toe kom ek en Gert, my eerste man weer Stilbaai toe die vakansie nadat hy as mediese dokter gekwalifiseer het.  Ons was ‘n groep vriende wat saam ‘n huis gehuur het.  Die mans het soggens vroeg uitgegaan om te gaan visvang want een van die maats se pa het ‘n boot gehad. 
Ek en Gert het daarna weer een jaar Stilbaai toe gekom en een van die huisies op die strand gehuur vir ‘n vakansie.  Dit is so spesiaal om daar op die strand te bly.  Die heerlike kuiers by die Blouhuis van die Jouberts bly my altyd by!
Agterna het ek my dogters ‘n paar keer die Blouhuis gehuur en gou vir ‘n naweek van Stellenbosch af weg geglip om te kom leeg le!  Spesiale tye!
Geen wonder dat ek hierheen wou terug kom nie!
En hier is ons, in ‘n heerlike huis op Fisantekraal, ‘n natuur reserwe net buite Stilbaai, met die zebras, bosbokkies, fisante, tarentale, en swaeltjies wat op die stoep huis gemaak het. 
Die lewe is voorwaar ‘n lied vir my!

Friday 23 September 2011

Farnese, ons dorpie

Voordat ons Suid Afrika toe vertrek, wil ek darem vir julle vertel van die dorpie waar ons bly.
Farnese is in die streek “alto Lazio”  wat beteken dis in die noordelike deel van Lazio, die streek waarin Rome ook gelee is.  Ons is baie naby Toskane gelee, om die waarheid te se, ons is slegs omtrent 10 km van Toskane af, en omtrent 20 km van Pitigliano af, die naaste dorpie in Toskane.
Die oorsprong van Farnese is nie baie duidelik nie, maar wat ek wil vir julle kan vertel is dat hierdie area al bewoon is vanaf die Brons Era.  Dit meen dit het al bestaan vanaf 1,100 jaar v.C.  Nogal oud ne!  Hier in ons omgewing is daar ruines gevind wat vandag gereken word as die belangrikste ruines van die Brons Era in Europa.  Weliswaar is daar nie veel om te sien nie want die huise was waarskynlik van riet en klei gebou, bietjie soos baie van die huise nog steeds gebou word in Afrika, maar die vloere was dikwels op sandsteen gebou, oftewel “tufo” soos dit hier bekend staan, en die vore wat uit gegrawe is daarin, bestaan nog steeds.  Daar is ook oorblyfsels van klei potte gevind wat dateer van daardie tyd.
Daarna is Farnese omgewing ook bewoon deur die Etruskane, wat die volk is wat in hierdie area gewoon het voor die Romeine.  In ons omgewing is daar baie oorblyfsels van die baie beskaafde volk.  Hulle het verseker kontak gehad met die ou Griekse beskawing want hulle keramiek oorblyfsels en tekeninge in hulle grafte herinner sterk aan die Griekse beskawing.  In baie grafte word ook verwysings na die Griekse mitologie gevind.
Hierna was die omgewing waarskynlik vir ‘n baie lang tyd verlate, tot in die laat Middeleeue.  Gedurende die 11de en tot die 13de eeu het Farnese omgewing behoort aan die Ildebrandi, ‘n familie met Duitse oorsprong.  In die 12de eeu is daar reeds duidelike tekens van bewoning in ons dorpie.
Volgens ‘n vriend van my, Ivo, was die dorpie op daardie stadium hoofsaaklik bewoon deur huursoldate en hulle vrouens wat prostitute was.  ‘n Interessante kombinasie sou ek se!
Gedurende die 14de eeu het die familie Farnese ‘n stewiger houvas op die omgewing begin kry, en het die dorpie al hoe meer gevestig geraak tot en met die val van die Hertogdom van Castro in 1649 wat verwoes is deur ‘n Pous wat gevoel het die Farnese familie raak te magtig.
Op hierdie stadium is die dorpie verkoop aan die familie Chigi, nog ‘n invloedryke familie van Lazio.  In 1798 het die troepe van Napoleon die omgewing verower en word Farnese deel van die Romeinse Republiek, en word later weer deel van die besittings van die familie Torlonia tot en met die eenwording van Italie.
Soos meeste middeleeuse dorpies in hierdie omgewing is Farnese ook gebou op ‘n sandsteen koppie met ‘n ingang aan slegs een kant.  Een van die oudste geboue is ‘n fort, wat later ook die woning van die Hertog geword het.  Sangallo was waarskynlik die argitek van die fort, maar daar is ook ‘n pragtige ingang wat waarskynlik deur ‘n ander argitek genaamd Vignola ontwerp is.
Farnese is ‘n tipiese plattelandse dorpie waar nie veel aangaan nie, baie soos enige plattelandse dorpie op enige ander plek in die wereld.  Daar is slegs omtrent 600 permanente inwoners in ons dorpie, alhoewel omtrent 1,600 geregistreer is as inwoners.  Baie van hulle woon in Rome of ander groot stede en kom slegs gedurende die somer maande hiernatoe, of dalk ook Kersfees en Paasfees.  Die enigste tyd wanneer ons sukkel om parkeer plek te kry is gedurende twee weke in Augustus, wanneer al die inwoners waarskynlik hier is.
Gedurende die somer maande word allerhande feeste hier aangebied.  Iets wat tipies is van Italie, en telkens vir my ‘n wonder is.  Hier is ‘n musiek week wanneer ‘n paar klassieke kunstenaars uitvoerings gee van klarinet, viool en pragtige sang.  Hierdie jaar het ons ‘n soprano gehad wat mens meegevoer het met haar pragtige stem.
Ons het ook ‘n “tribute to Pink Floyd” gehad wat die mense van ons ouderdom en bietjie jonger met nostalgie gevul het.
Die fees van die skaapwagters was ‘n reuse sukses met drie tadisionele etes per dag.  Die arme vrouens het hulle poegaai gewerk om aan almal kos te gee.
En so spoed die jaar ten einde, en die koue en nat winter maande kom vinnig nader.  Die Farnesane gaan amper letterlik in ‘n winter slaap deur die winter maande, en alles kom tot stilstand tot volgende jaar wanneer die lente weer begin. 
En ons vertrek Suid Afrika toe, om die somer daar te gaan beleef.  Hier word ons genoem “beato”  oftewel geseend om so van kontinent tot kontinent te kan beweeg en amper ewigdurende somer te beleef.  Ek voel geseend!

Sunday 28 August 2011

Die nederige toebroodjie

Toebroodjies, stapelvoedsel van baie mense!  Toebroodjies word vir kinders gemaak om skool toe te vat, vir werkers om werk toe te vat, en vir 'n vinnige happie tuis as mens honger is.
Maar waar het die toebroodjie eintlik begin?  Wie het die eerste keer hierdie lekkerte vir homself gemaak?
Wie sal ooit weet, want ek dink die toebroodjie was iets wat sommer spontaan ontstaan het.  Dis so logies om kos op brood te sit en dan te eet.

In Engels sprekende lande word gepraat van 'n "sandwich", in Italiaanse lande word gepraat van 'n "panino imbottito", in Skandinawiese  lande word gepraat van 'n "rugbrodsmad, in Spanje 'n "bocadillo" en dan kry ons nog ook die "bruschetta" van Italie wat 'n oop broodjie is, die "double roti" van Indie, om nie te praat van al die ander tipes brood wat miskien ook kan deurgaan as 'n toebroodjie soos die "tacos" van Meksiko.

Die eerste geskrewe weergawe van toebroodjies is in ou Hebreeuse geskrifte gevind waar vertel word dat die paaslam  tussen twee ongesuurde brode gesit is.  Baie handig, want so word jou hande nie vol vet nie. Ook in die Middeleeue was 'n stuk ou brood gebruik as 'n bord om kos op te sit.  Agterna is die "bord" of ge-eet deur die eter, of vir die honde gevoer, waarskynlik afhangende hoe eetbaar die "bord" was.  Dink net hoe lekker deurdrenk was die stuk brood teen daardie tyd van al die souse van die kos.

In England het die "Earl of Sandwich" sy kos bestel tussen twee snye brood, sodat sy hande nie vuil geword het terwyl hy kaart gespeel het.  Die ander spelers het mettertyd hulle kos "soos Sandwich" bestel, en so het die naam "sandwich" begin.

En watter lekkertes kan mens tog op 'n toebroodjie sit!  Almal van ons het 'n geliefkoosde vulsel.  Wat van die nederige geroosterde kaas en tamatie toebroodjie?  Of ham en tamatie?  Daai ou gunstelinge waarmee ons groot geword het?
Toe ek 'n kind was, was dit 'n hoogtepunt om na 'n kafee toe te gaan, 'n melkskommel te drink, en 'n "toasted sandwich" te eet!  En as 'n nuwe kerel jou kafee toe vat vir hierdie lekkerte was dit sommer baie pluspunte in sy guns!

Regoor die wereld is daar 'n paar toebroodjies wat altyd gunstelinge sal bly, byvoorbeeld die "club sandwich" in die VSA, die "Croque Monsieur" in Frankryk, komkommer toebroodjies in England, en dan ook in die VSA die "peanut butter and jelly" toebroodjie, waar "jelly" niks anders is as konfyt nie!

En ek kan nie afsluit sonder om bietjie te praat oor die Italiaanse toebroodjie nie, wat hier genoem word "panino farcito" of "imbottito" - Roberto se "farcito".  Oorspronklik was dit 'n heel brood wat in die lengte deurgesny was en dan gepak was met òf "cicoria" 'n wonderlike bitter blaargroente, òf sterk rooi pepers en vir die "contadini" (plaaswerkers) saam gegee is om vir middagete te eet.  Saam met hulle botteltjie rooiwyn was dit perfek om hulle aan te gang te hou tot aandete wat tradisioneel die hoof maaltyd van die dag is en was.
Vandag is die mees algemene vulsel vir 'n panino ham in al sy verskillende vorms, gekook, gedroog (proscuito) en dan natuurlik ook enige van die verskillende salami's wat mens hier in Italie kry.  Uit die aard van die saak word daar vandag kleiner rolletjies gebak om panini mee te maak, en die vulsels kan ook kaas, tamatie of spinasie bevat.
Maar miskien die heel bekendste en bemindste panino in Italie, in elk geval hier in die sentrale deel waar ons bly, is die "panino con porchetta" oftewel die broodjie met 'n vulsel van 'n hele paar snye gestopte speenvarkie (gevul en gaargemaak met knoffel, roosmaryn, sout en salie) en wat mens dikwels by stalletjies langs die pad kan koop.  Porchetta is tipies van Lazio en Umbria, die twee sentrale streke van Italie.
Dan het die Italianers ook 'n regte toebroodjie met die naam "tramezzino" waaroor ek mal is.  Baie ongesond, want dit is 'n wit brood wat spesiaal gebak word vir tramezzini, en sag en lig is, en sonder korsies.  Die toebroodjies wat daarvan gemaak word het die mees wonderlike vulsels.  Omdat geen botter op brood gebruik word hier in Italie nie, word die klammigheid gewoonlik verskaf deur 'n bietjie mayonaise.  Dan kom die verskillende vulsels; mozzarella en tamatie, proscuito en spinasie of proscuito en mozzarella, tuna en spinasie, bresaola en blaarslaai, gekookte eier en ham, .........die kombinasies is legio!
Die tramezzino het hoofsaaklik sy ontstaan te danke aan die autostrade, waar mens by menige vulstasies, elk met sy restaurant/bar stop en jouself weer kan versterk vir die pad met 'n wonderlike koppie koffie en iets ligs om te eet.

En wie ken nie die bekende bruschetta van Italie nie?  Daai hemelse geroosterde sny plaasbrood wat met 'n knoffel gesmeer word terwyl dit nog warm is, en dan met 'n strepie goeie olyfolie bedien word?  En natuurlik, hoe beter die olyfolie, hoe lekkerder is die bruschetta!
Maar bruschetta kan ook gemaak word deur dit te stapel met vars gekapte tamatie blokkies en basielkruid.  Of in Toskane is die mees algemene manier om bruschetta te bedien met 'n tipe hoender lewer paté eie aan Toskane.
Ek weet bruschetta is nie regtig 'n toebroodjie nie, maar kon nie die versoeking weerstaan om hier ook daarvan melding te maak nie.
So, maak vandag vir jou 'n toebroodjie met iets spesiaals, en dink aan die massas mense wat saam met jou 'n toebroodjie eet!  En geniet dit!!!