Friday 12 April 2013

My twee Dogters

Karlien kuier by my!  Ai, dis altyd vir my so lekker as een van my kinders by my kuier!  Ek het waarskynlik geleer om hulle opreg te waardeer toe ek so die wêreld vol geflenter het.
My twee dogters het altwee 'n baie spesiale plekkie in my hart en in my lewe.  Dit is soms asof ons telepaties met mekaar verbind is, en mekaar se gemoeds toestand vêr oor die waters kan aanvoel. Ek het al menigmaal 'n sms van Elsabet af gekry waarin sy my vra wat is fout Ma?  Ek dink konstant aan jou!

Karlien gaan terug Australie toe, vir goed.  Dit maak my hartseer.  Dit maak my weemoedig, want ek weet sommer daar gaan dae kom wat ek vreeslik na haar gaan verlang.  Hier in Suid Afrika kon ek darem gou bel as ek so voel, en al het ek net vir haar gesê ek is lief vir haar, het ek sommer beter gevoel.

Elsabet bly doer vêr in Noord Ierland, in Belfast.  Ek het haar verlede jaar met my verjaarsdag laas gesien, maar ons "sien" mekaar elke week minstens een keer 'n week op skype.  Ai, hoe het ons klaar gekom voordat ons die heerlike vinnige internet kommunikasie gehad?

Altwee my dogters is vir my net soos ek hulle wil hê!  Hulle is volwasse, verantwoordelik, vriendelik en vol lewe.  Hulle weet wat hulle wil hê en skroom nie om dit na te volg nie.  Kortom, hulle koppe is uitgesorteer.

Ek sê sommer net vandag DANKIE vir my twee dogters!

1 comment:

  1. Love you like jelly tots my liefste Moeks.
    I had the best teacher in you...... so ek wil se DANKIE vir my wonderlike Ma!
    xxxxx

    ReplyDelete