Friday 30 March 2012

Terug in Italie.

Ons is terug in Italie.  Let daarop dat ek nie se ons is terug by die huis nie!  Dit is die vreemdste ding, want vir die eerste keer voel nie ek of Roberto asof ons terug is by die huis nie.  Ons het mos nou besluit dat Stilbaai ons nuwe huis is, en dit is waarheen ons wil terug gaan, of eintlik, dit is waar ons wil wees.

Maar!, en dit is 'n baie belangrike maar, gister toe ek vir Roberto dorp toe stuur om vir ons bietjie kos te gaan koop, kom hy met entoesiasme terug!  "Dit is eenvoudig wonderlik! Ek het nie geweet wàt om te koop nie!  Ek kan myself verdrink daarin!  Die keuses is legio!"

Hy het by die huis gekom met drie soorte groen groente - iets wat ons konstant gemis het in Suid Afrika waar daar as groen blaargroente net "swiss chard" te koop is, nie eers regte spinasie nie.  Hy het "brocoletti" gekoop, en 'n bitter blaar "cicoria" en "fagioli a corallo"  wat groen boontjies is, maar plat met die heerlikste geur!
Ek moet bieg, ons het darem soms lekker groen boontjies gehad, en daar was altyd murg pampoentjies, en altyd koop en brocolli.  Maar mens word moeg om altyd net te kan kies tussen hierdie paar groente, en om iets daarvan te probeer maak.

Dit was natuurlik een van my en Roberto se gevegte daar in Suid Afrika; hy was op 'n kol so gatvol vir die kos wat ek gemaak het dat hy net mooi niks meer wou eet nie.  Hy het sy Italiaanse kos gesoek!  En ek kon dit nie vir hom gee nie!!  Fiasko, se ek vir julle!  Absolute fiasko!  Ons het vir seker twee weke lank geveg oor kos!

Nou is ons terug hier, en minstens is die kos kwessie uitgesorteer want benewens die lekker groen groentes, het Roberto ook proscuito gebring, en drie soorte kaas, en mozzarella wat ons gisteraand met bloedrooi tamaties ge-eet het, en heerlike olywe wat in die oond gedroog is, en plat pizza brood.

Nou weet ek dat ek terug is in Italie!  Ek drink weer my capucino in die oggend, gemaak van amper pik swart koffie, ek eet weer al die heerlike groen groentes, en verlustig my weer in die verskillende kase en brode van Italie!

O wel, "you win some, you lose some"!!

No comments:

Post a Comment