Sunday 28 August 2011

Die nederige toebroodjie

Toebroodjies, stapelvoedsel van baie mense!  Toebroodjies word vir kinders gemaak om skool toe te vat, vir werkers om werk toe te vat, en vir 'n vinnige happie tuis as mens honger is.
Maar waar het die toebroodjie eintlik begin?  Wie het die eerste keer hierdie lekkerte vir homself gemaak?
Wie sal ooit weet, want ek dink die toebroodjie was iets wat sommer spontaan ontstaan het.  Dis so logies om kos op brood te sit en dan te eet.

In Engels sprekende lande word gepraat van 'n "sandwich", in Italiaanse lande word gepraat van 'n "panino imbottito", in Skandinawiese  lande word gepraat van 'n "rugbrodsmad, in Spanje 'n "bocadillo" en dan kry ons nog ook die "bruschetta" van Italie wat 'n oop broodjie is, die "double roti" van Indie, om nie te praat van al die ander tipes brood wat miskien ook kan deurgaan as 'n toebroodjie soos die "tacos" van Meksiko.

Die eerste geskrewe weergawe van toebroodjies is in ou Hebreeuse geskrifte gevind waar vertel word dat die paaslam  tussen twee ongesuurde brode gesit is.  Baie handig, want so word jou hande nie vol vet nie. Ook in die Middeleeue was 'n stuk ou brood gebruik as 'n bord om kos op te sit.  Agterna is die "bord" of ge-eet deur die eter, of vir die honde gevoer, waarskynlik afhangende hoe eetbaar die "bord" was.  Dink net hoe lekker deurdrenk was die stuk brood teen daardie tyd van al die souse van die kos.

In England het die "Earl of Sandwich" sy kos bestel tussen twee snye brood, sodat sy hande nie vuil geword het terwyl hy kaart gespeel het.  Die ander spelers het mettertyd hulle kos "soos Sandwich" bestel, en so het die naam "sandwich" begin.

En watter lekkertes kan mens tog op 'n toebroodjie sit!  Almal van ons het 'n geliefkoosde vulsel.  Wat van die nederige geroosterde kaas en tamatie toebroodjie?  Of ham en tamatie?  Daai ou gunstelinge waarmee ons groot geword het?
Toe ek 'n kind was, was dit 'n hoogtepunt om na 'n kafee toe te gaan, 'n melkskommel te drink, en 'n "toasted sandwich" te eet!  En as 'n nuwe kerel jou kafee toe vat vir hierdie lekkerte was dit sommer baie pluspunte in sy guns!

Regoor die wereld is daar 'n paar toebroodjies wat altyd gunstelinge sal bly, byvoorbeeld die "club sandwich" in die VSA, die "Croque Monsieur" in Frankryk, komkommer toebroodjies in England, en dan ook in die VSA die "peanut butter and jelly" toebroodjie, waar "jelly" niks anders is as konfyt nie!

En ek kan nie afsluit sonder om bietjie te praat oor die Italiaanse toebroodjie nie, wat hier genoem word "panino farcito" of "imbottito" - Roberto se "farcito".  Oorspronklik was dit 'n heel brood wat in die lengte deurgesny was en dan gepak was met òf "cicoria" 'n wonderlike bitter blaargroente, òf sterk rooi pepers en vir die "contadini" (plaaswerkers) saam gegee is om vir middagete te eet.  Saam met hulle botteltjie rooiwyn was dit perfek om hulle aan te gang te hou tot aandete wat tradisioneel die hoof maaltyd van die dag is en was.
Vandag is die mees algemene vulsel vir 'n panino ham in al sy verskillende vorms, gekook, gedroog (proscuito) en dan natuurlik ook enige van die verskillende salami's wat mens hier in Italie kry.  Uit die aard van die saak word daar vandag kleiner rolletjies gebak om panini mee te maak, en die vulsels kan ook kaas, tamatie of spinasie bevat.
Maar miskien die heel bekendste en bemindste panino in Italie, in elk geval hier in die sentrale deel waar ons bly, is die "panino con porchetta" oftewel die broodjie met 'n vulsel van 'n hele paar snye gestopte speenvarkie (gevul en gaargemaak met knoffel, roosmaryn, sout en salie) en wat mens dikwels by stalletjies langs die pad kan koop.  Porchetta is tipies van Lazio en Umbria, die twee sentrale streke van Italie.
Dan het die Italianers ook 'n regte toebroodjie met die naam "tramezzino" waaroor ek mal is.  Baie ongesond, want dit is 'n wit brood wat spesiaal gebak word vir tramezzini, en sag en lig is, en sonder korsies.  Die toebroodjies wat daarvan gemaak word het die mees wonderlike vulsels.  Omdat geen botter op brood gebruik word hier in Italie nie, word die klammigheid gewoonlik verskaf deur 'n bietjie mayonaise.  Dan kom die verskillende vulsels; mozzarella en tamatie, proscuito en spinasie of proscuito en mozzarella, tuna en spinasie, bresaola en blaarslaai, gekookte eier en ham, .........die kombinasies is legio!
Die tramezzino het hoofsaaklik sy ontstaan te danke aan die autostrade, waar mens by menige vulstasies, elk met sy restaurant/bar stop en jouself weer kan versterk vir die pad met 'n wonderlike koppie koffie en iets ligs om te eet.

En wie ken nie die bekende bruschetta van Italie nie?  Daai hemelse geroosterde sny plaasbrood wat met 'n knoffel gesmeer word terwyl dit nog warm is, en dan met 'n strepie goeie olyfolie bedien word?  En natuurlik, hoe beter die olyfolie, hoe lekkerder is die bruschetta!
Maar bruschetta kan ook gemaak word deur dit te stapel met vars gekapte tamatie blokkies en basielkruid.  Of in Toskane is die mees algemene manier om bruschetta te bedien met 'n tipe hoender lewer paté eie aan Toskane.
Ek weet bruschetta is nie regtig 'n toebroodjie nie, maar kon nie die versoeking weerstaan om hier ook daarvan melding te maak nie.
So, maak vandag vir jou 'n toebroodjie met iets spesiaals, en dink aan die massas mense wat saam met jou 'n toebroodjie eet!  En geniet dit!!!

1 comment:

  1. Bruschetta met tortufo... yum.... ons lunch in Orvieto was hemels.. lekker voorgereg, lekker toebroodjie, lekker wyn en die beste geselskap :-)

    ReplyDelete