Saturday 15 October 2011

Stilbaai


Ons is in Stilbaai, ‘n dorpie wat vir my van kleintyd af al spesiaal is.  Ek het die eerste keer die see gesien in Stilbaai toe ek 10 jaar oud was.  Ons het destyds in Pietersburg gebly, en die reis Stilbaai toe was alreeds ‘n spesiale reis. 
Ek onthou ons het die eerste dag tot in Germiston gery waar my Ouma aan my Ma se kant gebly het.  Sy het daar skool gehou, in Wychwood.  Dit was alreeds ‘n dag reis met ons 1953 groen Ford. 
Die tweede dag was ons reis tot in Bloemfontein waar ons ook vir die eerste keer in ‘n regte hotel geslaap het.  ‘n Vreemde en opwindende ondervinding vir ons kinders.
Maar toe kom die swaar, want toe kom die hitte!  Dit was Desember, en die derde dag het ons tot in Beaufort Wes gery.  Sonder lugverkoeling, met wyd oop vensters wat geen verligting bring nie, en ons drie kinders agter in die kar het Ma en Pa enige iets probeer om ons te vermaak.  Ons moes die nommer plate van die karre wat van voor af kom raai, ons het al die liedjies wat ons ken gesing, en ons het “comics” gelees.  Tussen-in het ons natuurlik ook baklei, want as een aan die ander raak was daar moeilikheid!  Op ‘n stadium het dit so erg geraak dat Pa gedreig het om te stop en ons af te laai.  Glo my, hy het dit een keer met my gedoen en dit was genoeg om my te kalmeer ………. Vir ‘n wyle.
Op ‘n stadium het ons by ‘n kafee winkel langs die pad gestop en Carina, my sus wou met alle geweld daar bly toe die tannie aanbied om haar daar te hou!  Sy was die mooiste ou klein dogtertjie.
Die vierde dag het ons darem in Stilbaai aangekom, laat middag en by die Harmonie losieshuis ingeboek.  Dit was die mees wonderlike vakansie vir ons kinders.  Harmonie losieshuis was op die strand, net oor die straat, geen badkamers nie, net buite storte, alle etes ingesluit, ‘n kinder paradys!  Vroeg oggend was ons reeds op die strand om skulpies, klippies en wat nog op te tel.  Swem tot ons velle soos ou frummels gelyk het, bloed rooi gebrand want dit was voor sonskerm middels, tot ons gladnie sonder ons hoede buite toe mag gegaan het nie.  O die lekker ou dae!
En toe kom ek en Gert, my eerste man weer Stilbaai toe die vakansie nadat hy as mediese dokter gekwalifiseer het.  Ons was ‘n groep vriende wat saam ‘n huis gehuur het.  Die mans het soggens vroeg uitgegaan om te gaan visvang want een van die maats se pa het ‘n boot gehad. 
Ek en Gert het daarna weer een jaar Stilbaai toe gekom en een van die huisies op die strand gehuur vir ‘n vakansie.  Dit is so spesiaal om daar op die strand te bly.  Die heerlike kuiers by die Blouhuis van die Jouberts bly my altyd by!
Agterna het ek my dogters ‘n paar keer die Blouhuis gehuur en gou vir ‘n naweek van Stellenbosch af weg geglip om te kom leeg le!  Spesiale tye!
Geen wonder dat ek hierheen wou terug kom nie!
En hier is ons, in ‘n heerlike huis op Fisantekraal, ‘n natuur reserwe net buite Stilbaai, met die zebras, bosbokkies, fisante, tarentale, en swaeltjies wat op die stoep huis gemaak het. 
Die lewe is voorwaar ‘n lied vir my!