Saturday 15 October 2011

Stilbaai


Ons is in Stilbaai, ‘n dorpie wat vir my van kleintyd af al spesiaal is.  Ek het die eerste keer die see gesien in Stilbaai toe ek 10 jaar oud was.  Ons het destyds in Pietersburg gebly, en die reis Stilbaai toe was alreeds ‘n spesiale reis. 
Ek onthou ons het die eerste dag tot in Germiston gery waar my Ouma aan my Ma se kant gebly het.  Sy het daar skool gehou, in Wychwood.  Dit was alreeds ‘n dag reis met ons 1953 groen Ford. 
Die tweede dag was ons reis tot in Bloemfontein waar ons ook vir die eerste keer in ‘n regte hotel geslaap het.  ‘n Vreemde en opwindende ondervinding vir ons kinders.
Maar toe kom die swaar, want toe kom die hitte!  Dit was Desember, en die derde dag het ons tot in Beaufort Wes gery.  Sonder lugverkoeling, met wyd oop vensters wat geen verligting bring nie, en ons drie kinders agter in die kar het Ma en Pa enige iets probeer om ons te vermaak.  Ons moes die nommer plate van die karre wat van voor af kom raai, ons het al die liedjies wat ons ken gesing, en ons het “comics” gelees.  Tussen-in het ons natuurlik ook baklei, want as een aan die ander raak was daar moeilikheid!  Op ‘n stadium het dit so erg geraak dat Pa gedreig het om te stop en ons af te laai.  Glo my, hy het dit een keer met my gedoen en dit was genoeg om my te kalmeer ………. Vir ‘n wyle.
Op ‘n stadium het ons by ‘n kafee winkel langs die pad gestop en Carina, my sus wou met alle geweld daar bly toe die tannie aanbied om haar daar te hou!  Sy was die mooiste ou klein dogtertjie.
Die vierde dag het ons darem in Stilbaai aangekom, laat middag en by die Harmonie losieshuis ingeboek.  Dit was die mees wonderlike vakansie vir ons kinders.  Harmonie losieshuis was op die strand, net oor die straat, geen badkamers nie, net buite storte, alle etes ingesluit, ‘n kinder paradys!  Vroeg oggend was ons reeds op die strand om skulpies, klippies en wat nog op te tel.  Swem tot ons velle soos ou frummels gelyk het, bloed rooi gebrand want dit was voor sonskerm middels, tot ons gladnie sonder ons hoede buite toe mag gegaan het nie.  O die lekker ou dae!
En toe kom ek en Gert, my eerste man weer Stilbaai toe die vakansie nadat hy as mediese dokter gekwalifiseer het.  Ons was ‘n groep vriende wat saam ‘n huis gehuur het.  Die mans het soggens vroeg uitgegaan om te gaan visvang want een van die maats se pa het ‘n boot gehad. 
Ek en Gert het daarna weer een jaar Stilbaai toe gekom en een van die huisies op die strand gehuur vir ‘n vakansie.  Dit is so spesiaal om daar op die strand te bly.  Die heerlike kuiers by die Blouhuis van die Jouberts bly my altyd by!
Agterna het ek my dogters ‘n paar keer die Blouhuis gehuur en gou vir ‘n naweek van Stellenbosch af weg geglip om te kom leeg le!  Spesiale tye!
Geen wonder dat ek hierheen wou terug kom nie!
En hier is ons, in ‘n heerlike huis op Fisantekraal, ‘n natuur reserwe net buite Stilbaai, met die zebras, bosbokkies, fisante, tarentale, en swaeltjies wat op die stoep huis gemaak het. 
Die lewe is voorwaar ‘n lied vir my!

Friday 23 September 2011

Farnese, ons dorpie

Voordat ons Suid Afrika toe vertrek, wil ek darem vir julle vertel van die dorpie waar ons bly.
Farnese is in die streek “alto Lazio”  wat beteken dis in die noordelike deel van Lazio, die streek waarin Rome ook gelee is.  Ons is baie naby Toskane gelee, om die waarheid te se, ons is slegs omtrent 10 km van Toskane af, en omtrent 20 km van Pitigliano af, die naaste dorpie in Toskane.
Die oorsprong van Farnese is nie baie duidelik nie, maar wat ek wil vir julle kan vertel is dat hierdie area al bewoon is vanaf die Brons Era.  Dit meen dit het al bestaan vanaf 1,100 jaar v.C.  Nogal oud ne!  Hier in ons omgewing is daar ruines gevind wat vandag gereken word as die belangrikste ruines van die Brons Era in Europa.  Weliswaar is daar nie veel om te sien nie want die huise was waarskynlik van riet en klei gebou, bietjie soos baie van die huise nog steeds gebou word in Afrika, maar die vloere was dikwels op sandsteen gebou, oftewel “tufo” soos dit hier bekend staan, en die vore wat uit gegrawe is daarin, bestaan nog steeds.  Daar is ook oorblyfsels van klei potte gevind wat dateer van daardie tyd.
Daarna is Farnese omgewing ook bewoon deur die Etruskane, wat die volk is wat in hierdie area gewoon het voor die Romeine.  In ons omgewing is daar baie oorblyfsels van die baie beskaafde volk.  Hulle het verseker kontak gehad met die ou Griekse beskawing want hulle keramiek oorblyfsels en tekeninge in hulle grafte herinner sterk aan die Griekse beskawing.  In baie grafte word ook verwysings na die Griekse mitologie gevind.
Hierna was die omgewing waarskynlik vir ‘n baie lang tyd verlate, tot in die laat Middeleeue.  Gedurende die 11de en tot die 13de eeu het Farnese omgewing behoort aan die Ildebrandi, ‘n familie met Duitse oorsprong.  In die 12de eeu is daar reeds duidelike tekens van bewoning in ons dorpie.
Volgens ‘n vriend van my, Ivo, was die dorpie op daardie stadium hoofsaaklik bewoon deur huursoldate en hulle vrouens wat prostitute was.  ‘n Interessante kombinasie sou ek se!
Gedurende die 14de eeu het die familie Farnese ‘n stewiger houvas op die omgewing begin kry, en het die dorpie al hoe meer gevestig geraak tot en met die val van die Hertogdom van Castro in 1649 wat verwoes is deur ‘n Pous wat gevoel het die Farnese familie raak te magtig.
Op hierdie stadium is die dorpie verkoop aan die familie Chigi, nog ‘n invloedryke familie van Lazio.  In 1798 het die troepe van Napoleon die omgewing verower en word Farnese deel van die Romeinse Republiek, en word later weer deel van die besittings van die familie Torlonia tot en met die eenwording van Italie.
Soos meeste middeleeuse dorpies in hierdie omgewing is Farnese ook gebou op ‘n sandsteen koppie met ‘n ingang aan slegs een kant.  Een van die oudste geboue is ‘n fort, wat later ook die woning van die Hertog geword het.  Sangallo was waarskynlik die argitek van die fort, maar daar is ook ‘n pragtige ingang wat waarskynlik deur ‘n ander argitek genaamd Vignola ontwerp is.
Farnese is ‘n tipiese plattelandse dorpie waar nie veel aangaan nie, baie soos enige plattelandse dorpie op enige ander plek in die wereld.  Daar is slegs omtrent 600 permanente inwoners in ons dorpie, alhoewel omtrent 1,600 geregistreer is as inwoners.  Baie van hulle woon in Rome of ander groot stede en kom slegs gedurende die somer maande hiernatoe, of dalk ook Kersfees en Paasfees.  Die enigste tyd wanneer ons sukkel om parkeer plek te kry is gedurende twee weke in Augustus, wanneer al die inwoners waarskynlik hier is.
Gedurende die somer maande word allerhande feeste hier aangebied.  Iets wat tipies is van Italie, en telkens vir my ‘n wonder is.  Hier is ‘n musiek week wanneer ‘n paar klassieke kunstenaars uitvoerings gee van klarinet, viool en pragtige sang.  Hierdie jaar het ons ‘n soprano gehad wat mens meegevoer het met haar pragtige stem.
Ons het ook ‘n “tribute to Pink Floyd” gehad wat die mense van ons ouderdom en bietjie jonger met nostalgie gevul het.
Die fees van die skaapwagters was ‘n reuse sukses met drie tadisionele etes per dag.  Die arme vrouens het hulle poegaai gewerk om aan almal kos te gee.
En so spoed die jaar ten einde, en die koue en nat winter maande kom vinnig nader.  Die Farnesane gaan amper letterlik in ‘n winter slaap deur die winter maande, en alles kom tot stilstand tot volgende jaar wanneer die lente weer begin. 
En ons vertrek Suid Afrika toe, om die somer daar te gaan beleef.  Hier word ons genoem “beato”  oftewel geseend om so van kontinent tot kontinent te kan beweeg en amper ewigdurende somer te beleef.  Ek voel geseend!

Sunday 28 August 2011

Die nederige toebroodjie

Toebroodjies, stapelvoedsel van baie mense!  Toebroodjies word vir kinders gemaak om skool toe te vat, vir werkers om werk toe te vat, en vir 'n vinnige happie tuis as mens honger is.
Maar waar het die toebroodjie eintlik begin?  Wie het die eerste keer hierdie lekkerte vir homself gemaak?
Wie sal ooit weet, want ek dink die toebroodjie was iets wat sommer spontaan ontstaan het.  Dis so logies om kos op brood te sit en dan te eet.

In Engels sprekende lande word gepraat van 'n "sandwich", in Italiaanse lande word gepraat van 'n "panino imbottito", in Skandinawiese  lande word gepraat van 'n "rugbrodsmad, in Spanje 'n "bocadillo" en dan kry ons nog ook die "bruschetta" van Italie wat 'n oop broodjie is, die "double roti" van Indie, om nie te praat van al die ander tipes brood wat miskien ook kan deurgaan as 'n toebroodjie soos die "tacos" van Meksiko.

Die eerste geskrewe weergawe van toebroodjies is in ou Hebreeuse geskrifte gevind waar vertel word dat die paaslam  tussen twee ongesuurde brode gesit is.  Baie handig, want so word jou hande nie vol vet nie. Ook in die Middeleeue was 'n stuk ou brood gebruik as 'n bord om kos op te sit.  Agterna is die "bord" of ge-eet deur die eter, of vir die honde gevoer, waarskynlik afhangende hoe eetbaar die "bord" was.  Dink net hoe lekker deurdrenk was die stuk brood teen daardie tyd van al die souse van die kos.

In England het die "Earl of Sandwich" sy kos bestel tussen twee snye brood, sodat sy hande nie vuil geword het terwyl hy kaart gespeel het.  Die ander spelers het mettertyd hulle kos "soos Sandwich" bestel, en so het die naam "sandwich" begin.

En watter lekkertes kan mens tog op 'n toebroodjie sit!  Almal van ons het 'n geliefkoosde vulsel.  Wat van die nederige geroosterde kaas en tamatie toebroodjie?  Of ham en tamatie?  Daai ou gunstelinge waarmee ons groot geword het?
Toe ek 'n kind was, was dit 'n hoogtepunt om na 'n kafee toe te gaan, 'n melkskommel te drink, en 'n "toasted sandwich" te eet!  En as 'n nuwe kerel jou kafee toe vat vir hierdie lekkerte was dit sommer baie pluspunte in sy guns!

Regoor die wereld is daar 'n paar toebroodjies wat altyd gunstelinge sal bly, byvoorbeeld die "club sandwich" in die VSA, die "Croque Monsieur" in Frankryk, komkommer toebroodjies in England, en dan ook in die VSA die "peanut butter and jelly" toebroodjie, waar "jelly" niks anders is as konfyt nie!

En ek kan nie afsluit sonder om bietjie te praat oor die Italiaanse toebroodjie nie, wat hier genoem word "panino farcito" of "imbottito" - Roberto se "farcito".  Oorspronklik was dit 'n heel brood wat in die lengte deurgesny was en dan gepak was met òf "cicoria" 'n wonderlike bitter blaargroente, òf sterk rooi pepers en vir die "contadini" (plaaswerkers) saam gegee is om vir middagete te eet.  Saam met hulle botteltjie rooiwyn was dit perfek om hulle aan te gang te hou tot aandete wat tradisioneel die hoof maaltyd van die dag is en was.
Vandag is die mees algemene vulsel vir 'n panino ham in al sy verskillende vorms, gekook, gedroog (proscuito) en dan natuurlik ook enige van die verskillende salami's wat mens hier in Italie kry.  Uit die aard van die saak word daar vandag kleiner rolletjies gebak om panini mee te maak, en die vulsels kan ook kaas, tamatie of spinasie bevat.
Maar miskien die heel bekendste en bemindste panino in Italie, in elk geval hier in die sentrale deel waar ons bly, is die "panino con porchetta" oftewel die broodjie met 'n vulsel van 'n hele paar snye gestopte speenvarkie (gevul en gaargemaak met knoffel, roosmaryn, sout en salie) en wat mens dikwels by stalletjies langs die pad kan koop.  Porchetta is tipies van Lazio en Umbria, die twee sentrale streke van Italie.
Dan het die Italianers ook 'n regte toebroodjie met die naam "tramezzino" waaroor ek mal is.  Baie ongesond, want dit is 'n wit brood wat spesiaal gebak word vir tramezzini, en sag en lig is, en sonder korsies.  Die toebroodjies wat daarvan gemaak word het die mees wonderlike vulsels.  Omdat geen botter op brood gebruik word hier in Italie nie, word die klammigheid gewoonlik verskaf deur 'n bietjie mayonaise.  Dan kom die verskillende vulsels; mozzarella en tamatie, proscuito en spinasie of proscuito en mozzarella, tuna en spinasie, bresaola en blaarslaai, gekookte eier en ham, .........die kombinasies is legio!
Die tramezzino het hoofsaaklik sy ontstaan te danke aan die autostrade, waar mens by menige vulstasies, elk met sy restaurant/bar stop en jouself weer kan versterk vir die pad met 'n wonderlike koppie koffie en iets ligs om te eet.

En wie ken nie die bekende bruschetta van Italie nie?  Daai hemelse geroosterde sny plaasbrood wat met 'n knoffel gesmeer word terwyl dit nog warm is, en dan met 'n strepie goeie olyfolie bedien word?  En natuurlik, hoe beter die olyfolie, hoe lekkerder is die bruschetta!
Maar bruschetta kan ook gemaak word deur dit te stapel met vars gekapte tamatie blokkies en basielkruid.  Of in Toskane is die mees algemene manier om bruschetta te bedien met 'n tipe hoender lewer paté eie aan Toskane.
Ek weet bruschetta is nie regtig 'n toebroodjie nie, maar kon nie die versoeking weerstaan om hier ook daarvan melding te maak nie.
So, maak vandag vir jou 'n toebroodjie met iets spesiaals, en dink aan die massas mense wat saam met jou 'n toebroodjie eet!  En geniet dit!!!

Tuesday 16 August 2011

Ferragosto

Gister was Ferragosto hier in Italie, 'n baie belangrike fees vir die Italianers, maar meeste van hulle weet nie eers hoekom hulle fees vier nie.
Hedendaags word Ferragosto gevier as 'n godsdienstige dag, en wel vir die hemelvaart van die maagd Maria wat sonder sonde in die hemel opgeneem is.
En soos alle godsdienstige feeste is dit gebasseer op 'n antieke en selfs heidense feesdag.

Die 15de Augustus val vir die Italianers in die middel van die somer vakansie, en so was dit van antieke tye af.  Die dag is gevier as die einde van die harde werk om die gesaaides in die lande te kry.  Interessant is dat die dag oorspronklik ook gevier is met die verskillende diere wat gehelp het om hierdie harde werk te doen, en by name die perde, donkies en muile.  Daarom dat tot vandag toe nog daar in verskillende dorpe op Ferragosto 'n Palio gehou word, oftewel 'n perde resies.  Die beroemdste van hierdie is die Palio in Siena wat jaarliks duisende mense trek.
Maar in Civita die Bagno Regio hier naby ons, is dit 'n donkie resies in die piazza omdat daar hoofsaaklik van donkies gebruik gemaak is in die heuwelagtige omgewing van Cività.

Ferragosto was oorspronklik een van die feesdae van die keiser Augustus, wat in 18 v.C ingestel is.  Daar word gereken dat dit dalk sy verjaarsdag kon gewees het.  Die godin Diana is ook vereer omdat sy 'n simbool was van vrugbaarheid en rypwording, iets wat noodsaaklik was vir die oes wat reeds in die lande was.
Vandag word die feesdag hoofsaaklik gevier deur na die "campangna" toe te gaan, oftewel veld toe!  'n Lekker piekniek by 'n meer, rivier of selfs die see is die algemeenste keuse.
En wat eet die mense?  Tradisioneel duiwe oor die kole gerooster!  Maar vandag is daar soveel heerlike somer geregte wat goed werk vir 'n piekniek dat min mense nog dit doen.  Proscuito, salami, porchetta, frittata, en les bes, van die heerlike tamaties wat op die oomblik so volop is.  Verskillende soorte kase, en altyd 'n crostata om mee af te sluit.
Crostata is niks anders as 'n groot konfyt tert nie, en iets waaroor die Italianers mal is.  Ek kon nog nooit regtig 'n smaak daarvoor ontwikkel nie, want vir my moet 'n konfyt tert appelkoos konfyt op he, en hier word allerhande ander soorte konfyt gebruik wat net eenvoudig nie so lekker is nie.

Ons het Ferragosto heerlik saam met ons vriendin Laura gevier, en ek het sonder dat ek dit voorheen geweet het, die regte gereg as hoofgereg gehad, naamlik duif, alhoewel ek dit nie oor die kole gebraai het nie, maar in Marsala sag gestowe het.  Baie lekker!

Wednesday 10 August 2011

Bolognese Sous vir Pasta

Wie het nog nooit 'n Bolognese sous vir pasta gemaak nie?  Seker niemand nie, want in Suid Afrika is dit seker die mees algemene sous wat vir pasta gemaak word.  Dit is ook die eerste sous wat ek gemaak het, en Gideon my seun het baie gou hierdie werkie oorgeneem en Bolognese sous met spaghetti vir al sy maters wat kom kuier gemaak.
Maar hier in Italie het ek baie dinge geleer, en een van die eerste lesse wat Roberto my geleer het is dat hierdie sous allermins sy geliefkooste pasta sous is.  Hy, soos byna alle Italianers, verkies 'n eenvoudige tamatie sous, en Bolognese sous word eintlik net in die stad Bologna gemaak, en is bowenal verbaster deur die wereld buite Italie.

Bolognese sous is in 1982 geregistreer as 'n ware Italiaanse resep deur die "Accademia Italiana Cucina" wat waghou oor tradisionele Italiaanse resepte, en bestaan uit gemaalde beesvleis, pancetta (ongerookte spek), uie, tamatie pasta, vleis ekstrak, wit wyn en melk.  En om dit vir 5 of 6 ure te kook, is gladnie ongewoon nie.
Bolognese sous word ook tradisioneel bedien met vars gemaakte tagliatelle, en word in Bologna nooit bedien met spaghetti soos algemeen reg oor die wereld nie.  Die idee is dat 'n breer pasta hierdie ryk vleis sous baie beter hanteer.

Hoekom praat ek vandag oor Bolognese sous?  Omdat ek gister vir ons 'n wonderlike, heerlike Bolognese sous gemaak het vir pasta.  Ek het probeer om al die verskille basiese riglyne te volg wat die Italianers self gee om 'n goeie Bolognese te maak, en ek deel dit met julle.

  • Moet nooit 'n té maer vleis gebruik nie, hoe meer vetjies die vleis het, hoe beter is die "ragu".
  • Voeg die sout onmiddelik by wanneer jy die vleis begin soteer, so laat die vleis onmiddelik sy vog vry tot voordeel van die smaak van die sous.
  • Voeg die melk by voordat jy die wyn en tamatie bysit om dit te beskerm teen die suur van die wyn en tamaties.
  • Gebruik 'n lekker swaarboom kastrol wat die hitte hou sodat die sous stadig kan kook sonder dat dele van die vleis koud word. 'n Ysterpot is ideaal hiervoor, of daai wonderlike Franse swaarboom kastrolle!
  • Kook die sous stadig sonder 'n deksel en op 'n baie lae hitte vir 'n lang, lang tyd, niks minder as 3 ure lank, en selfs meer is goed!

Ek is seker almal van julle het 'n goeie resep vir Bolognese sous.  Volgende keer as julle dit maak, hou hierdie punte in gedagte, en kyk net wat 'n wonderlike sous bedien julle vir die familie!  Ek kan my net voorstel hoe lekker sal hierdie vleissous wees as dit 'n hele oggend lank op 'n koolstoof geprut het!!

Friday 5 August 2011

Somer kos in Italie

Dit is somer in Italie!  En dit is lekker in die somer in Italie.
Daar is 'n oorvloed van lekkertes in die somer in Italie.  Buite eet onder die stoep wat toe gerank is met 'n wisteria, vroeg opstaan met die voels wat jou wakker maak en 'n koppie koffie buite drink met die koelte van die oggend wat oor jou speel, laat aand in die stilte buite sit - dis natuurlik as die muskiete jou nie opvreet nie!
En les bes, die kos!
Hierdie jaar is 'n jaar vir tamaties.  Daar is groot rondes, daar is langwerpige tamaties van alle vorme, party effens rond, party wat amper lyk soos 'n peer, en dan die kleintjies wat soeter as soet is!  Ek bak die langwerpiges in 'n stadige oond sodat al die water uitdroog en dan maak ek 'n sous wat my dwarsdeur die jaar aan die somer herinner.
En wat sal die oorvloed van tamaties tog wees sonder basielie kruid, wat amper enige tamatie uitlig uit die ordiner?  Maar behalwe basiliekruid het ek ook dragon, tiemie, origano en marjolien in my tuin.  En ek praat natuurlik nie van die "gewone" pietersielie, roosmaryn en grasuie nie.  'n Tamatieslaai met enige of 'n kombinasie van die kruie in my tuin word 'n spesiale dis.
Moenie vergeet van die wonderlike caprese slaai waar diep rooi tamaties saam met spierwit mozzarella kaas en basieliekruid voorgesit word nie.  Vir my 'n bewys van hoe 'n eenvoudige gereg soms soveel lekkerder kan wees as iets waaraan mens ure gewerk het!
Maar op die oomblik is dit ook murgpampoentjie tyd hier in Italie, en in oorvloed!  Hier noem ons dit zucchini, en ek het dit die afgelope tyd op allerhande heerlike maniere vir ons gaar gemaak.  Gevul, gebraai, saam met tamaties en goudgeel en bloedrooi pepers in die oond gebak, 'n slaai gemaak van aartappels en zucchini, en natuurlik sommer so rou met 'n vinnige sousie van olyfolie en suurlemoen sap.
O die lekkerte van die somer!
Purper eiervrug is volop in die winkels, en wat is lekkerder as 'n vars geplukte "melanzane" soos dit hier bekend staan wat net vinnig in 'n pan gebraai word met strepie olyfolie oor, en sout en peper?
Ek kan elke dag "bietola" eet, wat eintlik niks anders is as die spinasie wat ons as kinders ge-eet het.  Hier in Italie het ek geleer dat die regte spinasie klein vleserige blaartjies het, en bottersag word as dit gekook word.  Met 'n draai swart peper, sout en 'n straaltjie olyfolie daaroor is dit konings kos.  Maar ek dwaal af, "bietola" is net so lekker, maar het gladnie dieselfde tekstuur as spinasie nie.  Dit is 'n baie meer substansiele groente, en my Italianer hou daarvan gegeur met knoffel en 'n bietjie rooi peper.

Vrugte is nog 'n lekkerte van die somer hier in Italie.  Ons het begin met appelkose, alhoewel die oes hierdie jaar gladnie goed was nie.  Die blommetjies het oor die algemeen dood geryp as gevolg van 'n laat koue.
Toe was dit kersie tyd, en hier op ons stukkie "plaas" is sommer twee kersie bome waarvan ons in oorvloed kon eet.  Elke keer as ek by die yskas verby geloop het, het ek 'n paar kersies in die hand gevat en oral loop en pitte uitspoeg.  'n Weelde vir my as Suid Afrikaner waar kersies baie duur is.
En nou is dit perske tyd!  Ons eet elke dag perskes, veral die kaal perskes is lekker groot en vol geur!  Die sap loop aan die kant van jou mond af as jy een van die ou grotes eet.  En die smaak is soos 'n perske moet proe!
So twee weke terug het ons gesmul aan die eerste vye van die seisoen, maar die grootste gros word eers later ryp.  'n Tipiese manier om vye te eet hier in Italie is om 'n dun skyfie proscuito om dit te draai.  Die sout en soet vul mekaar op 'n baie spesiale manier aan.
En wie ken nie spanspek en proscuito nie?  Tipiese somerskos van Italie!
Ons buurman het nou al twee keer met 'n halwe waatlemoen hier by ons aangekom, wat ek sommer dadelik opsny en in die yskas sit.  Ek en Roberto eet drie dae daaraan, maar dit laat my altyd dink aan somers in Suid Afrika, waar 'n braai sonder 'n yskoue waatlemoen wat vroegdag al in die koelte gesit is met 'n nat gemaakte goingsak om.  Onthou julle?
Vir eers genoeg vir vandag, ons gesels weer.
Arrivederci!

Saterdag aand met vriende

Dis tyd om weer te onthaal, en more aand het ek vriende oorgenooi.
Hier in Italie is dit 'n heerlike tyd om te onthaal, vrugte en groente is so volop, en alles smaak so lekker!
Dis hoekom ek besluit het, dis tyd om weer 'n slag gazpacho te maak.  Vol van die geur van somer, met tamaties uit die tuin wat ek vroeg in die week al gepluk het.  Vanaand le hulle so rooi hier voor my, en smeek om verwerk te word.  Met 'n goeie olyfolie, bietjie knoffel, 'n klein rooi uitjie vanaf Tropea, en my voedsel verwerker, is die eerste gang uit gesorteer.
Vir die hoofgereg het ek bietjie hoofpyne gehad, maar hier in ons dorpie begin jy met enige een praat, en daar kry jy inspirasie.  Ek gaan drink die ander oggend koffie by 'n vriendin, en terwyl ons so sit en gesels kom haar man ook daar aan.  Ek gooi sommer so tussen-in 'n opmerking oor wat sal ek maak vir Saterdag aand, en daar vat die gesprek sommer vlam!
Ivo begin sommer dadelik met gazpacho, en daar is ek sommer ook oortuig daarvan dis wat ek wil maak. Hy stel ook panzanella voor, die hemelse broodslaai van tamaties, basilie-kruid en rooi ui, maar ek het klaar besluit op die tamatiesop.
Hoofgereg is een van sy eerste voorstelle 'n gestopte hoender.  Ek kou daaraan, en hy brei uit.  Hoekom kook jy nie die ontbeende hoender, sommer vandag al, en dan bere jy die sous/water waarin dit gekook het tot more en maak 'n gelantine daarvan.  Al daai lekker geure wat in die sous vas gevang is gaan jou gelatine hemels maak..........
En wat van involtini gevul met insalata russa ('n mengsel van groente met mayonaise) en dan le jy dit in in 'n gelantine.  Mmmmm, dit klink ook lekker!
Maar wat, op die ou end besluit ek op 'n eenvoudige ontbeende hoender, gevul met 'n kruie vulsel, en gerooster in die oond. Dit gaan ek by kamer temperatuur bedien.  Ja, dis een van die heerlike dinge hier van Italie, so anders as wat ons gebruik is in Suid Afrika waar alles oond warm bedien moet word. Selfs sop word in die somer teen kamer temperatuur bedien, en glo my, dis heerlik, vullend, en selfs verfrissend.
Sommer net 'n lekker gemengde slaai daarmee saam, die onontbeerlike brood, en daar is my maaltyd.
O ja, amper vergeet ek, daar moet ook 'n nagereg wees.  Ek stuit altyd vir die nagereg deel!  Dink ek sal sommer roomys gaan koop by ons gelateria hier in Farnese!  Wie wil nou sukkel met nagereg??
Arrividerci tot volgende keer wat ek iets vertel van die pragtige land waarin ons woon!