Friday 23 September 2011

Farnese, ons dorpie

Voordat ons Suid Afrika toe vertrek, wil ek darem vir julle vertel van die dorpie waar ons bly.
Farnese is in die streek “alto Lazio”  wat beteken dis in die noordelike deel van Lazio, die streek waarin Rome ook gelee is.  Ons is baie naby Toskane gelee, om die waarheid te se, ons is slegs omtrent 10 km van Toskane af, en omtrent 20 km van Pitigliano af, die naaste dorpie in Toskane.
Die oorsprong van Farnese is nie baie duidelik nie, maar wat ek wil vir julle kan vertel is dat hierdie area al bewoon is vanaf die Brons Era.  Dit meen dit het al bestaan vanaf 1,100 jaar v.C.  Nogal oud ne!  Hier in ons omgewing is daar ruines gevind wat vandag gereken word as die belangrikste ruines van die Brons Era in Europa.  Weliswaar is daar nie veel om te sien nie want die huise was waarskynlik van riet en klei gebou, bietjie soos baie van die huise nog steeds gebou word in Afrika, maar die vloere was dikwels op sandsteen gebou, oftewel “tufo” soos dit hier bekend staan, en die vore wat uit gegrawe is daarin, bestaan nog steeds.  Daar is ook oorblyfsels van klei potte gevind wat dateer van daardie tyd.
Daarna is Farnese omgewing ook bewoon deur die Etruskane, wat die volk is wat in hierdie area gewoon het voor die Romeine.  In ons omgewing is daar baie oorblyfsels van die baie beskaafde volk.  Hulle het verseker kontak gehad met die ou Griekse beskawing want hulle keramiek oorblyfsels en tekeninge in hulle grafte herinner sterk aan die Griekse beskawing.  In baie grafte word ook verwysings na die Griekse mitologie gevind.
Hierna was die omgewing waarskynlik vir ‘n baie lang tyd verlate, tot in die laat Middeleeue.  Gedurende die 11de en tot die 13de eeu het Farnese omgewing behoort aan die Ildebrandi, ‘n familie met Duitse oorsprong.  In die 12de eeu is daar reeds duidelike tekens van bewoning in ons dorpie.
Volgens ‘n vriend van my, Ivo, was die dorpie op daardie stadium hoofsaaklik bewoon deur huursoldate en hulle vrouens wat prostitute was.  ‘n Interessante kombinasie sou ek se!
Gedurende die 14de eeu het die familie Farnese ‘n stewiger houvas op die omgewing begin kry, en het die dorpie al hoe meer gevestig geraak tot en met die val van die Hertogdom van Castro in 1649 wat verwoes is deur ‘n Pous wat gevoel het die Farnese familie raak te magtig.
Op hierdie stadium is die dorpie verkoop aan die familie Chigi, nog ‘n invloedryke familie van Lazio.  In 1798 het die troepe van Napoleon die omgewing verower en word Farnese deel van die Romeinse Republiek, en word later weer deel van die besittings van die familie Torlonia tot en met die eenwording van Italie.
Soos meeste middeleeuse dorpies in hierdie omgewing is Farnese ook gebou op ‘n sandsteen koppie met ‘n ingang aan slegs een kant.  Een van die oudste geboue is ‘n fort, wat later ook die woning van die Hertog geword het.  Sangallo was waarskynlik die argitek van die fort, maar daar is ook ‘n pragtige ingang wat waarskynlik deur ‘n ander argitek genaamd Vignola ontwerp is.
Farnese is ‘n tipiese plattelandse dorpie waar nie veel aangaan nie, baie soos enige plattelandse dorpie op enige ander plek in die wereld.  Daar is slegs omtrent 600 permanente inwoners in ons dorpie, alhoewel omtrent 1,600 geregistreer is as inwoners.  Baie van hulle woon in Rome of ander groot stede en kom slegs gedurende die somer maande hiernatoe, of dalk ook Kersfees en Paasfees.  Die enigste tyd wanneer ons sukkel om parkeer plek te kry is gedurende twee weke in Augustus, wanneer al die inwoners waarskynlik hier is.
Gedurende die somer maande word allerhande feeste hier aangebied.  Iets wat tipies is van Italie, en telkens vir my ‘n wonder is.  Hier is ‘n musiek week wanneer ‘n paar klassieke kunstenaars uitvoerings gee van klarinet, viool en pragtige sang.  Hierdie jaar het ons ‘n soprano gehad wat mens meegevoer het met haar pragtige stem.
Ons het ook ‘n “tribute to Pink Floyd” gehad wat die mense van ons ouderdom en bietjie jonger met nostalgie gevul het.
Die fees van die skaapwagters was ‘n reuse sukses met drie tadisionele etes per dag.  Die arme vrouens het hulle poegaai gewerk om aan almal kos te gee.
En so spoed die jaar ten einde, en die koue en nat winter maande kom vinnig nader.  Die Farnesane gaan amper letterlik in ‘n winter slaap deur die winter maande, en alles kom tot stilstand tot volgende jaar wanneer die lente weer begin. 
En ons vertrek Suid Afrika toe, om die somer daar te gaan beleef.  Hier word ons genoem “beato”  oftewel geseend om so van kontinent tot kontinent te kan beweeg en amper ewigdurende somer te beleef.  Ek voel geseend!

No comments:

Post a Comment