Friday, 5 August 2011

Somer kos in Italie

Dit is somer in Italie!  En dit is lekker in die somer in Italie.
Daar is 'n oorvloed van lekkertes in die somer in Italie.  Buite eet onder die stoep wat toe gerank is met 'n wisteria, vroeg opstaan met die voels wat jou wakker maak en 'n koppie koffie buite drink met die koelte van die oggend wat oor jou speel, laat aand in die stilte buite sit - dis natuurlik as die muskiete jou nie opvreet nie!
En les bes, die kos!
Hierdie jaar is 'n jaar vir tamaties.  Daar is groot rondes, daar is langwerpige tamaties van alle vorme, party effens rond, party wat amper lyk soos 'n peer, en dan die kleintjies wat soeter as soet is!  Ek bak die langwerpiges in 'n stadige oond sodat al die water uitdroog en dan maak ek 'n sous wat my dwarsdeur die jaar aan die somer herinner.
En wat sal die oorvloed van tamaties tog wees sonder basielie kruid, wat amper enige tamatie uitlig uit die ordiner?  Maar behalwe basiliekruid het ek ook dragon, tiemie, origano en marjolien in my tuin.  En ek praat natuurlik nie van die "gewone" pietersielie, roosmaryn en grasuie nie.  'n Tamatieslaai met enige of 'n kombinasie van die kruie in my tuin word 'n spesiale dis.
Moenie vergeet van die wonderlike caprese slaai waar diep rooi tamaties saam met spierwit mozzarella kaas en basieliekruid voorgesit word nie.  Vir my 'n bewys van hoe 'n eenvoudige gereg soms soveel lekkerder kan wees as iets waaraan mens ure gewerk het!
Maar op die oomblik is dit ook murgpampoentjie tyd hier in Italie, en in oorvloed!  Hier noem ons dit zucchini, en ek het dit die afgelope tyd op allerhande heerlike maniere vir ons gaar gemaak.  Gevul, gebraai, saam met tamaties en goudgeel en bloedrooi pepers in die oond gebak, 'n slaai gemaak van aartappels en zucchini, en natuurlik sommer so rou met 'n vinnige sousie van olyfolie en suurlemoen sap.
O die lekkerte van die somer!
Purper eiervrug is volop in die winkels, en wat is lekkerder as 'n vars geplukte "melanzane" soos dit hier bekend staan wat net vinnig in 'n pan gebraai word met strepie olyfolie oor, en sout en peper?
Ek kan elke dag "bietola" eet, wat eintlik niks anders is as die spinasie wat ons as kinders ge-eet het.  Hier in Italie het ek geleer dat die regte spinasie klein vleserige blaartjies het, en bottersag word as dit gekook word.  Met 'n draai swart peper, sout en 'n straaltjie olyfolie daaroor is dit konings kos.  Maar ek dwaal af, "bietola" is net so lekker, maar het gladnie dieselfde tekstuur as spinasie nie.  Dit is 'n baie meer substansiele groente, en my Italianer hou daarvan gegeur met knoffel en 'n bietjie rooi peper.

Vrugte is nog 'n lekkerte van die somer hier in Italie.  Ons het begin met appelkose, alhoewel die oes hierdie jaar gladnie goed was nie.  Die blommetjies het oor die algemeen dood geryp as gevolg van 'n laat koue.
Toe was dit kersie tyd, en hier op ons stukkie "plaas" is sommer twee kersie bome waarvan ons in oorvloed kon eet.  Elke keer as ek by die yskas verby geloop het, het ek 'n paar kersies in die hand gevat en oral loop en pitte uitspoeg.  'n Weelde vir my as Suid Afrikaner waar kersies baie duur is.
En nou is dit perske tyd!  Ons eet elke dag perskes, veral die kaal perskes is lekker groot en vol geur!  Die sap loop aan die kant van jou mond af as jy een van die ou grotes eet.  En die smaak is soos 'n perske moet proe!
So twee weke terug het ons gesmul aan die eerste vye van die seisoen, maar die grootste gros word eers later ryp.  'n Tipiese manier om vye te eet hier in Italie is om 'n dun skyfie proscuito om dit te draai.  Die sout en soet vul mekaar op 'n baie spesiale manier aan.
En wie ken nie spanspek en proscuito nie?  Tipiese somerskos van Italie!
Ons buurman het nou al twee keer met 'n halwe waatlemoen hier by ons aangekom, wat ek sommer dadelik opsny en in die yskas sit.  Ek en Roberto eet drie dae daaraan, maar dit laat my altyd dink aan somers in Suid Afrika, waar 'n braai sonder 'n yskoue waatlemoen wat vroegdag al in die koelte gesit is met 'n nat gemaakte goingsak om.  Onthou julle?
Vir eers genoeg vir vandag, ons gesels weer.
Arrivederci!

No comments:

Post a Comment