Dis tyd om weer te onthaal, en more aand het ek vriende oorgenooi.
Hier in Italie is dit 'n heerlike tyd om te onthaal, vrugte en groente is so volop, en alles smaak so lekker!
Dis hoekom ek besluit het, dis tyd om weer 'n slag gazpacho te maak. Vol van die geur van somer, met tamaties uit die tuin wat ek vroeg in die week al gepluk het. Vanaand le hulle so rooi hier voor my, en smeek om verwerk te word. Met 'n goeie olyfolie, bietjie knoffel, 'n klein rooi uitjie vanaf Tropea, en my voedsel verwerker, is die eerste gang uit gesorteer.
Vir die hoofgereg het ek bietjie hoofpyne gehad, maar hier in ons dorpie begin jy met enige een praat, en daar kry jy inspirasie. Ek gaan drink die ander oggend koffie by 'n vriendin, en terwyl ons so sit en gesels kom haar man ook daar aan. Ek gooi sommer so tussen-in 'n opmerking oor wat sal ek maak vir Saterdag aand, en daar vat die gesprek sommer vlam!
Ivo begin sommer dadelik met gazpacho, en daar is ek sommer ook oortuig daarvan dis wat ek wil maak. Hy stel ook panzanella voor, die hemelse broodslaai van tamaties, basilie-kruid en rooi ui, maar ek het klaar besluit op die tamatiesop.
Hoofgereg is een van sy eerste voorstelle 'n gestopte hoender. Ek kou daaraan, en hy brei uit. Hoekom kook jy nie die ontbeende hoender, sommer vandag al, en dan bere jy die sous/water waarin dit gekook het tot more en maak 'n gelantine daarvan. Al daai lekker geure wat in die sous vas gevang is gaan jou gelatine hemels maak..........
En wat van involtini gevul met insalata russa ('n mengsel van groente met mayonaise) en dan le jy dit in in 'n gelantine. Mmmmm, dit klink ook lekker!
Maar wat, op die ou end besluit ek op 'n eenvoudige ontbeende hoender, gevul met 'n kruie vulsel, en gerooster in die oond. Dit gaan ek by kamer temperatuur bedien. Ja, dis een van die heerlike dinge hier van Italie, so anders as wat ons gebruik is in Suid Afrika waar alles oond warm bedien moet word. Selfs sop word in die somer teen kamer temperatuur bedien, en glo my, dis heerlik, vullend, en selfs verfrissend.
Sommer net 'n lekker gemengde slaai daarmee saam, die onontbeerlike brood, en daar is my maaltyd.
O ja, amper vergeet ek, daar moet ook 'n nagereg wees. Ek stuit altyd vir die nagereg deel! Dink ek sal sommer roomys gaan koop by ons gelateria hier in Farnese! Wie wil nou sukkel met nagereg??
Arrividerci tot volgende keer wat ek iets vertel van die pragtige land waarin ons woon!
Mmmm.....laat my verlang en inspireer my. Tyd om te beplan vir `n ete saam met vriende :-)
ReplyDelete