Tuesday, 16 August 2011

Ferragosto

Gister was Ferragosto hier in Italie, 'n baie belangrike fees vir die Italianers, maar meeste van hulle weet nie eers hoekom hulle fees vier nie.
Hedendaags word Ferragosto gevier as 'n godsdienstige dag, en wel vir die hemelvaart van die maagd Maria wat sonder sonde in die hemel opgeneem is.
En soos alle godsdienstige feeste is dit gebasseer op 'n antieke en selfs heidense feesdag.

Die 15de Augustus val vir die Italianers in die middel van die somer vakansie, en so was dit van antieke tye af.  Die dag is gevier as die einde van die harde werk om die gesaaides in die lande te kry.  Interessant is dat die dag oorspronklik ook gevier is met die verskillende diere wat gehelp het om hierdie harde werk te doen, en by name die perde, donkies en muile.  Daarom dat tot vandag toe nog daar in verskillende dorpe op Ferragosto 'n Palio gehou word, oftewel 'n perde resies.  Die beroemdste van hierdie is die Palio in Siena wat jaarliks duisende mense trek.
Maar in Civita die Bagno Regio hier naby ons, is dit 'n donkie resies in die piazza omdat daar hoofsaaklik van donkies gebruik gemaak is in die heuwelagtige omgewing van Cività.

Ferragosto was oorspronklik een van die feesdae van die keiser Augustus, wat in 18 v.C ingestel is.  Daar word gereken dat dit dalk sy verjaarsdag kon gewees het.  Die godin Diana is ook vereer omdat sy 'n simbool was van vrugbaarheid en rypwording, iets wat noodsaaklik was vir die oes wat reeds in die lande was.
Vandag word die feesdag hoofsaaklik gevier deur na die "campangna" toe te gaan, oftewel veld toe!  'n Lekker piekniek by 'n meer, rivier of selfs die see is die algemeenste keuse.
En wat eet die mense?  Tradisioneel duiwe oor die kole gerooster!  Maar vandag is daar soveel heerlike somer geregte wat goed werk vir 'n piekniek dat min mense nog dit doen.  Proscuito, salami, porchetta, frittata, en les bes, van die heerlike tamaties wat op die oomblik so volop is.  Verskillende soorte kase, en altyd 'n crostata om mee af te sluit.
Crostata is niks anders as 'n groot konfyt tert nie, en iets waaroor die Italianers mal is.  Ek kon nog nooit regtig 'n smaak daarvoor ontwikkel nie, want vir my moet 'n konfyt tert appelkoos konfyt op he, en hier word allerhande ander soorte konfyt gebruik wat net eenvoudig nie so lekker is nie.

Ons het Ferragosto heerlik saam met ons vriendin Laura gevier, en ek het sonder dat ek dit voorheen geweet het, die regte gereg as hoofgereg gehad, naamlik duif, alhoewel ek dit nie oor die kole gebraai het nie, maar in Marsala sag gestowe het.  Baie lekker!

No comments:

Post a Comment